Saturday, June 8, 2013

Huwelike en Kinders

Die nuutste uitgawe van Die Boodskapper, die AP Kerk se amptelike blad, handel oor “Die heerlikheid van die sewende gebod.”

Dis ’n publikasie vol jubeling, een van die beste uitgawes.
Miskien juis omdat huwelike en kinders gebore binne hierdie Godgegewe verhouding, my so na aan die hart lê.  Met artikelopskrifte soos “Ons Huweliksliefde en die Koninkryk”, “Jou Huwelik – nodig vir die Verbond”, “God se doel met die huwelik”, “Saamwoon en saamslaap” is elke enkele artikel ’n kuier op sigself werd...

Ek wil egter net breedweg aansny by enkele stellings en opmerkings in sommige van die artikels (ek wens die publikasie was as e-tydskrif of ten minste aanlyn beskikbaar, maar ongelukkig nie. Dit kan wel bestel word vanaf boodskapper@apk.co.za en kos R16 per eksemplaar.)

Die heel eerste artikel verwys na ons huwelike wat ’n VOORBEELD moet wees van die verhouding wat daar tussen God (as bruidegom - Mt 25:1-13, Mk 2:18-22, Joh 3:22-36) en sy kerk (as bruid - Op 21:2 & 9) bestaan. Jou en my huwelik is die eerste sigbare, tasbare beeld van God se liefde vir die mensdom - Ef. 5:22-33. Jou en my getrouheid binne die huwelik dui op God se getrouheid binne die verbond. Op sovele plekke, in die profetiese boeke, word na die volk se ontrouheid verwys as dieselfde van ’n ontugtige vrou.


Die tweede sluit hierby aan en vat dit verder.
God het van die begin af ’n stewige MONOGAME huwelik tussen een man en een vrou daargestel en die doel van hierdie verbintenis: God soek ’n geslag vir Hom op aarde. ’n Goddelike nageslag - Mal 2:15. Deur hierdie Goddelike nageslag word God se verbond met Abraham verder voortgedra. God bou self hierdie nageslag (Hy bepaal immers wie kinders kan hê en ook hoeveel kinders elke egpaar gaan hê) en God voorsien alles wat daarvoor nodig is ook.
Is dit nie ’n wonderlike rede tot dankbaarheid nie?

Die volgende paar artikels raak die teer onderwerp: Saamslaap en Saamwoon aan. Te veel Christene val vir die leuen “almal doen dit”. Ek wil nie in hierdie kuier daarby stilstaan nie, maar wil tog twee kosbaarhede uitlig.

Ds. Danilo Stoltz skryf dat daar twee gedagtes is om mee rekening te hou. 
Versoeking en Getuienis.
Geeneen van ons kan eerlik erken dat ons nog nooit voor versoekings geswig het nie.

Hieroor skryf hy: “Wanneer twee gelowige Christen verliefdes besluit om saam te woon, maar nie seksueel aktief te wees nie, klink dit teoreties wonderlik....Hoe kan jy verwag om nie een of ander tyd onder jou natuur te swig wanneer jy elke dag van jou lewe aan die versoeking blootgestel word nie?”

Ten opsigte van getuienis vertel hy die verhaal: “’n Man [het] by geleentheid deur sy vriend se groenteland geloop. Iewers deur die land het sy skoen losgegaan en het die los rieme hom dikwels laat struikel en die lopery bemoeilik. Sy metgesel vra toe waarom hy nie sy skoen vasmaak nie? Hy antwoord toe: ‘Ek is bang iemand buite die land sien my afbuk. Hulle weet nie ek maak my skoen vas nie en dink dalk ek is besig om groente te steel. Ek sal maar lewer ’n bietjie sukkel om te loop, omdat my getuienis vir my belangrik is.’”


Wat my egter gebind het, was die artikel oor God se Doel met die Huwelik.

Te midde van al ons frustrasies, irritasies en aanpassingsprobleme in die huwelik, moet ons altyd onthou dat God se gebod van ons selfverloëning eis, dat Christenskap diens beteken, diens aan ander, nie aan myself nie. Dat Christus gekom het om te dien en dieselfde van my verwag, ook in my huwelik.

My huweliksdoel is om God te verheerlik.
My huweliksdoel is om ’n hulp vir die ander helfte van ons eenheid te wees.
Die doel van ons huwelik is om losbandigheid teë te werk.
Die doel van ons huwelik is om kinders te hê, soos God sou besluit om aan ons te gee.

Kinders.
Ons besluit?
Ons eie keuse?
Ons beplanning?

In Gen. 1:28 word die opdrag gegee, ’n opdrag wat nêrens in die Woord opgehef word nie.
Hieroor skryf ds. Schalk Strauss: “Om kinders te hê, is dus nie opsioneel nie. Dit is ’n opdrag van die Here.”

Hoeveel mense ken jy wat self besluit of hulle enigsins kinders gaan hê? Wat besluit om geen kinders te hê nie?

Nie opsioneel nie, ’n opdrag.

Kinders is ’n seën ("a blessing") van die Here. Of jy een, tien, twee of twintig het. Jy is nie meer of minder geseënd nie – jy is geseënd.

Maar, wat dan van die duisende vroue wat smag na ’n kind en steeds smagtend bly... Sara, Rebekka, Hanna....die kinderloses?

Vir my gaan dit om meer. God seën ook deur finansies, deur gesondheid, deur vrede in die land (Deut 7:13). Sommige is egter arm, ander gaan gebuk onder geweldige fisiese probleme (blindheid, doofheid, gestremdhede) of word gebore in lande soos Sirië waar oorlog ’n gegewe is...

Goed, wanneer God my seën met finansies.
* Wow, te lekker. Ek kan koop wat ek begeer.
* Ek kan mooimaak, mooi aantrek, in styl rondry en woon.
* Ek kan gereedmaak vir ’n gerieflike en gemaklike oudag.

Of wanneer God my seën met gesondheid  (dikwels is dit een wat ons nie eens raaksien nie).
# Ek kry nie maklik verkoue of griep nie.
# Ek sukkel nie met oorontsteking, sinus en allergieë nie.
# Ek ken nie eens  ons huisdokter se naam nie, weet nie wat bloedtoetse behels of hospitaalprosedures is nie.

Nogal gaaf en goed hierdie twee laaste nè?
Finansies (ek sou kon doen met ’n miljoen) en gesondheid (’n appel ’n dag laat die dokter wag).

Nou kyk, ek weet nie van jou nie, maar as ek geseën word met finansies is dit nou nie ’n kraantjie wat ek graag sou wou toedraai nie. Ek dink dit sou nogal erg wees om vir die Here te sê: “Weet U, Vader, ek het nou al die afgelope 30 jaar so ’n miljoen of drie weggesit, ek reken dis nou genoeg. Ek kan daarmee heel lekker aftree en het nie eens nodig om die volgende 30 jaar te werk nie. U kan nou maar ophou om my finansies verder te laat groei. Dankie, maar nee dankie.
Ek het my beplanning nou uitgewerk en dis nie nodig dat U verder hiermee of voort te gaan nie. En net om seker te maak dat U nie dalk per ongeluk nog rente bysit nie, gaan ek my gelde uit die verskillende beleggingsfondse onttrek.”


Selfs die seën van gesondheid is nie ’n item om mee te speel nie. Ek meen te sê – sou jy gemaklik voel om vir die Here te vra: “Here, ek het nou al 30 jaar lank geen verkoue of griep gehad nie. Vir my hele leeftyd sien ek mense om my wat hospitaal toe moet gaan, wat pyn ly, wat swaarkry en vir my het u geseën met oorvloedige gesondheid. Maar, Here, ek dink dis nou genoeg. Voortaan wil ek asb. nie meer gesond wees nie.
My beplanning is om sovêr moontlik met kieme in aanraking te kom en die swakste eetgewoontes in die boek toe te pas.”


Toetentaal gek.
Bisar.

Is dit?

Maar kinders?
Die seën van olyfbome om jou tafel?
Pyle in jou koker?
(vgl Ps 127)

“Here, ons kan nie nog kinders bekostig nie, nie as ons vir elkeen ’n ordentlike universiteitsgraad, ’n goeie opvoeding, skool en sport wil gee nie. Ons kan nie nog kinders finansieel dra en steeds jaarliks vakansie gaan hou, naweke wegbreek, my gunsteling drankies koop en uiteet nie. Weet U wat kos weggooidoeke, baba-kos, formulemelk? Maar, net om seker te maak dat daar nie dalk ’n ‘glipsie’ is nie, gaan ons sommer ’n sterilisasie ook doen.
Dankie, Here, U kan sorg en voorsien vir my ewige lewe, maar hier op aarde sal ek self sien kom klaar. Hier sal ek besluit hoeveel seën ek wil hê.”

Gaan dink baie mooi hieroor na......