Monday, March 3, 2014

Unschool en Deschool

Twee terme wat baie verwar word en tot misverstande lei is:

deschool en unschool.

Miskien omdat ons weer eens nie taal ken en verstaan nie...

Die voorvoegsel "de-" in Engels beteken om te verwyder, weg te vat, minder te maak.

Die voorvoegsel "un-" in Engels beteken "nie" ("not").

In Afrikaans sou ons die voorvoegsel ont- gebruik vir die Engelse "de-" en die voorvoegsel on- vir die Engelse "un-".

Dus deschool beteken om te "ontskool" en unschool beteken om te "onskool".

Maar dis net woorde en woordspel. Wat is die definisie of die begrip van die woorde?

Deschool:
Ontskoling beteken en hou in dat skool verwyder word, minder gemaak word, weggevat word.

Dié begrip is net op tuisskolers wat eers in 'n skool was van toepassing, maar op álle tuisonderwys-ouers. Om 'n kind uit die skool te haal is relatief maklik, maar om die skool uit die kind te haal kan 'n sware taak wees. Om skool uit die ouers te haal is byna onbegonne!

Die probleem lê meestal in ons "bloudruk". Ons enigste verwysingsraamwerk na leer en leermetodiek is in ons eie skoolgaande verlede. Ons het nie 'n benul daarvan dat dit maar een van vele maniere (en nie juis die beste een nie) is waarop leer plaasvind. Skool is in effek 'n gestroopte weergawe van die werklikheid. Dink aan 'n laboratorium waarin alles klinies, wit en silwerskoon is. Dit is nie naastenby die omgewing waarbinne rotte, konyne en ander proefdiere gewoonlik leef nie. Tog word eksperimente daar gedoen om die werklikheid te probeer verstaan, ontleed en vrae te beantwoord.

Skool gee nie die ware werklikheid weer nie. Slegs 'n skamele afskaduwing daarvan.. Ons, die ouers, moet leer dat kinders baie meer en baie beter kan leer buite die skool. Daarom het ons nodig om geledig te word van skool en ons opvattings daaromtrent.

So ook kinders wat in 'n skool was - dis noodsaaklik om hierdie kinders te ontskool.... Vir ten minste 6 maande, maar in die geval van onderwysers wat tuisonderwys oorweeg tot soveel as 18 maande.

Unschool:
Onskoling is 'n leermetode wat van die lewe die leerinstrument maak.

Skool is hier van geen waarde nie. Die kind word juis onskool - nie geskool nie. Skool gesien in die nouer verband van die woord - asof dit slegs sou beteken die aksie waarby kinders met handboeke, leermateriaal (synde werkboeke, skrifte, pen en papier) by 'n lessenaar op 'n regop stoel sit.

Onskool hou in dat die lewe self as leerskool ingespan word. Met ander woorde, die kind begin 'n werk ('n beroep as jy wil) en leer daaruit self die praktiese wat dan lei tot teoretiese ontdekking. "Unschooling" is 'n baie wye begrip en word van radikaal tot baie konserwatief toegepas. Sommige ouers sal hul kinders toelaat om self te besluit selfs oor wat hulle vir ete wil hê, ander ouers gebruik hier en daar wel kurrikulum-materiaal, maar dan self gekose, self saamgestelde en verder aangevul deur die lewe.
Die besluit of ouers wil unschool of nie, berus by hulself. Dit is egter by verreweg die beste metode om veral kleiner kinders te leer. Deur rolspel, takies, verantwoordelikhede leer hulle die wêreld om hul ken. Maria Montessori het ook hierdie metode van onderwys, waar die lewe jou onderwyser is, gebruik in haar metodiek.

Die besluit om te deschool is ook in die ouers geleë. Uit eie ondervinding weet ek egter, dis die een waar die meeste ouers gly en uiteindelik, na 'n jaar of twee besef: Ons moes dit gedoen het. Gelukkig is dit nooit te laat nie en kan jy steeds, selfs na 2 jaar van tuisopvoeding, deschool.

Geniet die reis - want regdeur die lewe leer ons immers.