Sunday, March 24, 2013

Keuses

Uiteindelik is dit die somtotaal.

Keuses.
Besluite.

Foto geleen by: http://fundamentumstudios.deviantart.com/art/Strange-Split-Road-137641365

Jy kies daagliks vir of teen God.
Jy kies elke moment of jy die versoeking gaan teenstaan of toegee.

Sommige van die keuses wat ek in my lewe gemaak het, het hulself as blote foute uitgewys.
Soms loop my keuse op totale mislukking of fiasko uit.

Foto geleen by: http://thegradstudentway.com/blog/?p=632

Maar daar is, God sy dank, baie besluite, keuses wat sukses gespel het. Baie wat binne sy wil geval het en sodoende ook sy seën ontvang het.

Die groot verantwoordelikheid van keuses is dat jy, as moeder, ook ander mense se lewenspad bepaal na aanleiding van jou keuses. 
Die kos wat jy kook, die boeke, CD's en DVD's wat jy koop, die tydskrifte wat op jou koffietafel lê, die klere wat in hul kaste hang....dit beïnvloed elke kind in jou gesin.

Jy kies wat in jou man en kinders se buik beland. Dit het uiteindelik 'n beduidende impak op hul gesondheid.
Jy kies wat jou dierbaarstes se brein binnedring, wat 'n groot invloed op hul hart en gedagtes het.

Soms druk hierdie verantwoordelikheid my vas. 
Lê dit 'n beklemming om my hart.

Want dit wat ek weet goed is vir hulle en dit wat hulle graag wil hê, is in stryd met mekaar.
Dit wat ek weet heilsaam is vir my en vir hulle, is soveel anders as wat die wêreld, hul maats of selfs ons familie as sodanig beskou.

Dit maak ons "anders" en dis iets wat niemand graag wil wees nie.

Tog leer die Woord dat ons nie aan die wêreld gelykvormig moet wees nie. 
Leer die geskiedenis ons dat die massa selde die waarheid beet het.

  • Ons het tuisopvoeding gekies, die massa volg hoofstroomskole, selfs privaatskole wat uiteindelik tog maar net die hoofstroomskole in ander kleed is.
  • In tuisopvoeding het ons verkies om die selfleer-roete te loop ("unschooling") terwyl baie ouers hul hande saamslaan.
  • Ons het geen TV gekies, die massa koop plasmaskerms, huisteaters en skottel-kanale.
  • Ons het 'n een-beroep-gesin gekies, die massa het beide ouers in die sakesektor.
  • Ons het gekies om die Woord letterlik te glo - God het in ses dae deur sy gesproke Woord die ganse heelal geskape, die massa volg die media slaafs en glo dat miljoene jare nodig was.
  • Ons het gekies om gesinsgrootte in die Here se hande te laat, geen beheer daarvan te vat nie, die massa kies om self te besluit hoeveel kinders in hul gesin moet wees.
  • Ons het gekies om 'n meer gesonde leefstyl (minder gemorskos, geen koring, geen suiwel en geen suiker, geen preserveermiddels) te volg.


Of ons dit alles al regkry - nee.
Maar dis die keuse wat ons gemaak het.
Geeneen van hierdie sake was sommer lukraak oor besluit nie.
Daar was stryd en gebed, navorsing en oorweging.

Hoe kies jy? Wat beïnvloed jou keuses? Vra jy na die mening van die mense om jou of is God jou kompas?

Soos Paulus moet ek erken: "Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is." (Fil 3:13, '83-Vertaling)