Friday, June 22, 2012

Winter

Winter het die manier om 'n mens te bekruip. Skelm by die agterdeur in te sluip en nes te skop in jou murg.

In die voor-Bosveld waar ons woon, bestaan daar nie 'n tussen-seisoen nie. Somer word oornag winter. Geen sagte herfs nie.

Net gister ry ek en die kinders uit die erf uit, oppad dorp en sport toe.
"Kyk, die witstinkhout het nog al sy blare, grasgroen." En sowaar, daar hang hulle nog almal. Toegegee, die witstinkhout staan aan die noordekant van die huis, die een suid is reeds blaarloos, maar die apiesdoring (rakker!) is ook in vol somersdrag. G'n stuk lus om groen vir geel te ruil nie.

Om die huis verras die vyeboom ons met nog een blaar wat verbete vasklou....

Ek praat van 21 Junie 2012!
Die kortste dag met die langste nag.
Die son is amptelik op sy terugpad suide toe.

En vandag vee die tuinjong hope en hope blare bymekaar. Oornag, sommer net so het die witstinkhout hom kaal uitgetrek, sy klere sommer op die grond gegooi en soos die koning in Hans Christian Anderson se sprokie  staan die grote boom poedelkaal in die voortuin.

O, ja, ons het die koue front beleef. Ons het ook saam met die res van die land goed koud gekry. Die nag van 9 Junie het ons gebibber en na aan mekaar geslaap. Die volgende oggend wys skoonma se minimum termometer 0ºC.... Winter het gearriveer. Totdat my pa bel en vertel van my grootworddorp, Memel, wat -11ºC vir die aand gemeet het!

Winter beteken vir baie mense sop, kaggelvure, warm komberse en 'n glasie sjerrie. Ek is mal oor die prentjie wat dit by my opwek.


Maar ons woon in 'n voorafvervaardigde asbeshuis en daar is geen kaggel nie. Buitendien, winter is by ons so kort, intens maar kort, dat 'n kaggel werklik nie nut sal hê nie. Tog, die prentjie is mooi né.....

Winter trek egter maklik in my menswees ook in. Negatiewe gedagtes, negatiewe ervarings, negatiewe woorde uit die verlede kom lê hulle sonder uitnodiging in my denke neer. Dit verg 'n doelbewuste poging om hulle weg te werk, uit te werp en op te kyk, Op te kyk, te weet ek het 'n Vader wat groter is as enige winter, wat juis die winter gebruik om groei te bewerkstellig - ook in my siel.

Mag die winter jou snoesig in jou bed vind, warmwatersak of elektriese kombers om die bed voor te berei, sjerrie of beter nog, 'n koppie koffie met 'n skeutjie likeur daarin na 'n warm bad en heerlike lyfies wat almal op die groot bed vergader wanneer pa die Groot Boek oopslaan en ons harte verwarm in die seker wete: Ons God Leef en Hy het ons lief - oneindig lief.