Tuesday, January 7, 2014

Vreemd om te skryf

'n Nuwe jaar.

       Kersgroete is al verby.
               In sommige huise flikker-flikker die liggies nog, maar dis al.

Vergete is die wegbreek, die ooreet, laatslaap en malle gejaag agter geskenke aan.

             In oupas en oumas se huise daal rustigheid weer neer.

     En ek voel skuldig.
Junie 2013.

Dis wanneer ek laas hier geskryf het.
Dit voel skoon vreemd - ek het voeling met my kuierwerf verloor. Dalk sommer voeling met myself verloor.

Wie lees tog nog hier? Wat maak dit saak? Dis mos myne....

Facebook is dalk die skuldige, maar ék is die een wat aan sy verleiding toegee. Ek is die een wat my laat vang in sy wip.

Daardie kortstondige inloer by fisies-bekendes en internet-bekendes.
Dit vervreem my van my hierwees.

'n Nuwe jaar.

       Voornemens? Ag, ek weet nie. Hou enigeen ooit sy voornemens?

Maar ek wil meer hier skryf, weer kop oopskryf, myself leegskryf. Noem dit dan my voorneme.
En ek wil gewig verloor.... :-)


Ek begin al meer en meer wonder oor die veiligheid van skryf op die internet. Nie net oor kopiereg wat misbruik word nie, maar in die algemeen. Mense gee so maklik persoonlike inligting weg, sommer oop en bloot. Besef ons die moontlike gevaar daaragter?

Tog het ek nodig om te kom sit en tik, siel losmaak. Ek kan tog nie meer met pen en papier nie, dit maak my moeg. My gedagtes spoel net te vinnig weg.

Ai, weer los gedagtemaal.
Maar ek is nog mens, ek leef nog - soms net-net, want die lewe kan mens so maklik verswelg.

En tog weet ek vas en seker - God is in beheer - ook in hierdie malle gejaag, hierdie geklike klug wat ons lewe noem.











No comments:

Post a Comment