Wednesday, April 5, 2017

'n Bosveldse Bos-troue (deel 7)

Kampvuur en Dans

Leticia wou 'n kampvuur hê.
Iets waarteen haar pa vasgeskop het,
maar 'n mens se enigste dogter....

Soos in 'n vorige inskrywing genoem, was die groot gevaar van die kampvuur
nie soseer die moontlikheid van brand nie, maar
die tambotiebome.

Weer moes 'n kennisgewing geskryf word,
sekelboshout, wat geskik is vir die vuur,
is eenkant neergesit met hierdie kennisgewing daarby.

Die werksblad...



Wat gemaak met 'n dansbaan in die bos?
Die manne het 'n stukkie skoongesny, eenkant, weg van die onthaalarea.

Ook dit vir twee redes:
om die stof uit die mense se oë en kos te hou
om die wat graag wil kuier op hul stoele te hou en die musiekgedruis weg van hulle te draai.

Leticia het 'n ou windpomp-blaar gebruik en vol woorde,
alles met dans te doen, geskryf:



Die dansbaan was nooit ingewy nie,
want 'n paar druppels reën het begin val
en eensklaps was al die gaste weg....

Slegs 2mm reën...

Maar van 15:00 tot omtrent 21:30 het ons darem lekker kon kuier.
Vader was ons só genadig!!
Aan Hom al die eer.

**************************************************

Tafelversierings (vervolg)

Die tafels is keer op keer opgestel en verander....

In die huis

Buite

En in die donker

Oral op die plaas, in die werkswinkel,
in die asgat, in oumagroot se huis,
in die strykkamer is goed gesoek om die versierings mee te doen:

Uit die strykkamer: twee stryktafels, die sinkbad en die
kliplampies is neergesit om te sien of dit gaan pas

Uit die stoor, 'n ou gereedskapshouer
Maar altyddeur die immer kreatiewe idees van Leticia:

'n Glasbottel, stokkies en 'n kers...

Hartjies gemaak van ou geroeste doringdraad
Twee laaste voorbereidingsfoto's - 
Leticia het hierdie gemaak om op die bruidstafel te sit:



▼▲▼▲▼▲▼▲▼▲▼▲▼▲▼▲▼▲

Die rok

O, die liewe rok.

Dierbare Heleen het vir ons die rok gemaak - ek is haar innig dankbaar,
want soveel idees....
En Heleen het dit alles saamgevoeg om die rok (byna) soos Leticia dit wou gehad het
te maak.

"Hy moet lank wees, maar hy moet kort wees om in die bos te kan dra."

           
                              Die kort weergawe
Die lang weergawe

"Ek wil my regte Cowboy-boots by dit dra"
"Geen strikke en linte en goete nie."
Skouerloos, 'n sweetheart hals, oorgetrek met 'n skuinslopende chiffon,
vol "flarde": "Dit moet soos fluff lyk, mamma."

Uiteindelik, na baie naelskou, kry ons die rok Vrydagoggend.
En dis pragtig...

Met 'n onderrok wat ook die onderkant van die langer weergawe is....

Terug by die huis trek Leticia die rok aan - 'n laaste pas met die skoene -
maar o, wee! Die lussies waardeur die lint agter inryg, skeur een na die ander uit!



Om nou in te ry dorp toe, met soveel werk wat nog gedoen moet word....?! 
Dit kan eenvoudig nie. Ek verloor 'n uur net op die pad.
Vrydagaand sit ek en my ma met die rok, 'n plan moes ons maak en vinnig ook.

So verander ons toe effe aan die agterpant van die rok, in plaas van lussies, 
ryg die lint bloot deur 'n ander lint, vasgewerk in die rugpant.

Haar kousband het Leticia self gemaak.... en my totaal verras!


Vrydag

Die laaste geskarrel om alles gedoen te kry.
Die gehuurde items moet in Pretoria gehaal word.
Henry en Gusté ry douvoordag sodat hulle reeds 07:30 in Pretoria Tuine kan wees - 
ons plattelanders ken mos g'n niks van spitsverkeer nie!

Op die sandplaas gaan dit dol. Voertuie ry heen en terug om alles van die huis af aan te ry.
Buurman se tent is opgeslaan en swaer-hulle het van Groblersdal af kom kampeer in die bos.
Ons seuns slaap ook Vrydagaand in die tente in die bos.




Ek is twee keer in dorp toe. 
Eerste keer om die blomme en die rok op te laai.
Tweede keer om die ys te gaan laai.

Tussendeur kom my ouers hier aan, met die massa bloekomblare ook.


Vrydagaand is die bruid en strooimeisie besig met die bruidsruiker,
strooimeisiesruikers en skouerruikers vir die manne.



Die laaste pavlovas kom uit die oond...
Uiteindelik kom daar teen 23:00 rustigheid en kan ons gaan slaap.

Saterdag

Net om Saterdagoggend weer vroeg op te spring, 
almal gevoed en gekleed te kry (dierbare vriendin en strooimeisie, Eldiré, maak seker
dat die bruid wel eet... kort-kort hoor ek net: "Leticia, jy moet hap.")

Dan Blinkwater toe.
Oupa en ouma is Pietersburg toe om die koelwaentjie te gaan haal.
Gusté moet Naboom toe om die spitbraaiers te kry.
Ek en skoonsus, Elsabé, gaan Roedtan toe om die blomme en kerk reg te maak.



Daarna moet die skape ook gekry word....


Op Blinkwater is dit 'n miernes van bedrywighede:
tafels word gedek, laaste goedjies aangery en Eldiré kyk gekweld na haar oorlosie.
Die tyd stap aan....



Die kombuistent agter met die afdak vir die spitbraaiers voor.
Die watertenk is spesiaal vir die onthaal na Blinkwater geskuif.
 My ma bel: "Wanneer kom julle gereedmaak? Moet ek badwater intap?"
Nee, ma, dis nog lank.... ek weet nie eens of ek by bad gaan kom nie....
Net te veel laaste goedjies, net gou-gou...

Dis 'n goeie 40 minute se ry van Blinkwater na die kerk...
14:15 ry ons van Blinkwater af, huis toe.
Ek bel my ma: "Tap maar in ma, ons is op pad."
"Ek het klaar," antwoord sy my.

Ons hardloop die huis binne.
Henry het by ouma Corrie gaan bad, die twee jongstes het sommer so saam-saam
in die spaarkamer se bad gebad.
En in ons badkamer wag 'n bad vol skuim vir my en Andries in.

Daar is nie tyd om dit na behore te waardeer nie, maar die heerlike bederf is raakgesien.
Intussen daag die bruidsmotor met die bruid en strooimeisies op - hulle gaan foto's neem,
hier op die plaas....

"Weet julle hoe laat is dit?!" wil ek nog eers weer, vir oulaas, ma-wees en raas.

My kind wat nooit grimering dra nie. Vir die tweede keer
in haar lewe ingekleur vir 'n groot okkasie. Eerste keer
haar belydenisaflegging en nou haar troue...
Bruid en strooimeisies... en die liewe vooraf-foto's....

Dan moet ons weg wees. 14:45...
Ons is skaars op die teerpad, of my selfoon lui.
Dis Gusté, 'n baie, baie bekommerde Gusté.
"Marelize, waar is die dominee?"
Ek glimlag en antwoord: "Wees rustig, Gusté, Leticia is só laat, die dominee sal betyds wees."
"Ja, maar jy verstaan nie. Gaan hy kom?"

Ek kan my ore byna nie glo nie... Kan die kalme man dan so op sy senuwees wees?


~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~♪♪♪~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Die huweliksbevestiging word by die AP Kerk in Roedtan gedoen.
Datum: 18 Maart 2017
Tyd: 15:00

Nou kyk, ek het my bes probeer, vir 22 jaar lank, om hierdie kind (en al die ander)
te leer om asseblief tog net betyds te wees - altyd!

Maar, of dit enige vrugte afwerp....
Die arme gaste! Genadiglik het die kerk 'n grasdak en 
is met lugversorging toegerus.

Met die instapslag is gaste elk 'n blaadjie aangebied.
Agterkant

                  
                                                 Voorkant




















15:30 stop die bruidsmotor eers voor die kerk!

 



Sy wou eers 'n trekker kerk as troukar gehad het... 
maar regtig.... 25km met 'n trekker.... hoe laat sou sy dan gewees het?!

Groetnis

1 comment: