Monday, April 24, 2017

Facebook - 'n liefde/haat-verhouding

~~~~~ {sug} ~~~~~

"Alweer!"

Ja, sowaar, alweer.

Facebook boelie my... 'n regte liefde-haatverhouding, dis wat ek en "die ding" het. Dit verslaaf my en ry my.

Dit moet end kry.
Vinnig.
Sekuur.
Finaal.

Maar dis nie so maklik nie.

Opium, heroïen. - Dis nooit maklik nie.


Maar, ek is moeg. Der dagen sat.

Ek het nagedink en dit weer bedink.
Die lewe voor die www en voor Facebook.

My kinderjare.
Daar was in Memel maar "een" kerk (ja, die Hervormde Kerk was ook daar. Maar hulle het net elke tweede week 'n diens gehad. Die meeste Hevormers het die alternatiewe week saam met ons diens gehou) en almal het Sondae kerk toe gegaan. Almal. die kerk was vol.

Vandag het Memel drie kerke...
Drie gemeentes in 'n dorp wat skaars een drankwinkel kan oophou.
Uiteindelik was daar net een predikant en het hy
Sondag na Sondag al drie kerke
se gemeentelede bedien....

Later jare het die kerk leeg geloop - hoekom?

As kind het ek nie geweet van homos en van evolusie nie (eers op hoërskool daarvan geleer). God was werklik en altyd daar. Die Bybel was ongetwyfeld en baie beslis waar.

Ek glo dat evolusie die grootste leuen denkbaar is
maar dat dit effektief gebruik word om ons kerke te tap...
In die lig van Romeine 1 e.v. is dit duidelik dat
homoseksualiteit die gevolg van evolusie is...

Jou vriende was mense van vlees en bloed (buiten die feëtjies en kabouters van my verbeelding) en jy het by hulle gaan kuier op 'n Sondagmiddag. Met verjaarsdae het julle mekaar gebel en gelukgewens of jy het 'n kaartjie en geskenk gaan aflewer (wat weer beloon is met koffie en koek of tee en tert).

Jy het soms gehoor van kanker - dit was 'n rare siekte.
Jy kon kies met wie jy in groepe (klieks?) wou deel.
Jy kon besluit hoe jou vriendekring daar uitsien.

Jou leesstof en films of tv-reekse was aan jou eie oordeel oorgelaat. 

Jy het, in 'n groot mate, beheer oor jou lewe gehad.

Op Facebook het ander my in groepe ingesit,
waar ek nie noodwendig wou wees nie...
Ek stel nie in troeteldiere belang asof dit mense is nie,
wil nie in die politiek betrokke raak nie,
en wil my tuisonderwysgroepe self kies.

Ek kry vriendskapsversoeke van mense
wat ek van nêrens ken nie....
hoekom?
Waar het jy van my gehoor?
Hoekom dink jy ek moet 'n vriendin van jou wees?
Wat dink jy is ons raakpunte?

Ek moes sien waarvan ander hou en waar hulle kommentaar lewer.
Ek wil nie. Ek wil net sien wat hulle self skryf....
Maar Facebook gee my nie daardie keuse, 
daardie vryheid nie.

Die koms van die www
Ek moes die www kry.
Met 'n broer doer vêr anderkant die wêreld - letterlik - en my ma wat destyds vir tot 9 maande op 'n slag in Nieu-Seeland gebly het, was Skype die enigste kommunikasie.
Internet word 'n noodsaaklikheid...

As ek toe kon voorsien wat ek vandag weet, sou ek dit ooit gedoen het? Eerlik? NEE!

En tog... die net het soveel positiewe dinge ook vir my gegee.
Soos my kuierwerf byvoorbeeld, my wiskundehulp aan meer as net 5 kinders 'n middag...
Above Rubies, wat ek nooit sonder die internet sou leer ken het nie...
Tuisonderwysondersteuningsgroepe.
Creation.com - O, Creation se enorme invloed op my geestelike lewe kan ek nie oorbeklemtoon nie.

Die gerief van internetbanksake (kyk ek verpes die binnekant van 'n bank!), e-posse...

Uiteindelik word dit 'n onmisbare ergernis.
Jy kan jou nouliks 'n lewe daarsonder voorstel
Maar dit sluk mense heel in.

Maar die nadele.
Verlies aan mensekontak (wat ek heimlik verkies, maar die kluisenaar in my word vetgevoer. Tevore was ek noodgedwonge verplig om met mense te meng, te kommunikeer. Nou vermy ek die telefoon soos die runderpes).
Blootstelling aan te veel...

Is die blootstelling goed of sleg?

Ek weet nie.
Ek weet net, ek kon onbesorg kind wees. Sonder om met al hierdie "verkeerde", negatiewe, onaanvaarbare verdrink te word.
Ek kon finaal ontwikkel voordat die aanslae op my gemaak is.


Ek wens ek kan my kinders dit bied.


Eers was dit net my kuierwerf, e-posse en internetbank, want alles kos geld... en die data is nie goedkoop nie.

Later verlaat my mede-bloggers die blogosfeer om na Facebook te migreer.
Kort voor lank was ek ook daar... en loop "bekendes" daar raak.

Hoe kan dit tog bekendes wees?
Wat weet ek tog van 'n mede-blogger, van 'n tuisonderwys-e-poskontak, van 'n naam op 'n kerkblad?
Hoe kan ek voorgee ek ken jou?

Maar die behoefte word groter en uiteindelik kry ons wifi (nogal gratis! Maar dis 'n ander storie)

En nou is die onbeperk besig om ons óp te werk.
Youtube sluk my man en kinders. Dis al wat hulle doen...
Facebook sluk my. Dis al wat ek doen - heeldag. Wel, verder speel ek speletjies op my tablet (die groot nadeel van 'n bediende in die huis te hê!)


Daarom die besluit.
"CUT!"

Stop die rolprentkameras.
Raak ontslae van die maskers.
Trek die rolle uit en word net weer mens
Net jouself.

Dis wat ek hier op my kuierwerf kon wees.
Net - ek.


Niemand wat my op groepe sit waar ek nie wil wees nie.
Niemand wat my "vriend" wil wees terwyl hy / sy my hoegenaamd nie ken nie.
Niemand wat my woord gaan omkeer asof ek op hom / haar geskimp het toe ek geskryf het nie.


Net ek.
Ek hoop, nee, ek bid, dat ek hierdie verslawing sal kan ontgroei.
Dat ek totaal sal kan breek. Want, hey man, ek het 'n klomp gawe mense ook op Facebook leer ken.

Dierbare mense, my mense. Hartmense. Mense wat ek nooit andersins sou leer ken het nie.

O, ek en van hulle verskil ook maar drasties. Maar ons ooreenkomste is net soveel groter, ons raakpunte sterker. En ek gaan hulle mis.

As hulle nie self hier gaan kom inloer so dan en wan nie...wel, so is dit.

'n Nuwe blaadjie so op hierdie Maandagoggend.

Want vir my is dit nou: Dis Tyd.




4 comments:

  1. Jammer dat my antwoord 'n herrie veroorsaak het. Dit was nie my bedoeling nie. Ek sal in die vervolg eerder sake by myself oordink as om dit te bespreek. Ek moet tog vir myself verantwoording doen eendag :)

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dierbare Elize....
      Ek wou al lank voor die een waarna jy verwys, my Facebook toemaak. Toe het 'n hele paar gevra dat ek eers die troue se foto's moet deel. En dit is gedoen.

      Dis baie beslis nié as gevolg van die inskrywing en kommentare daarop wat ek toegemaak het nie...miskien net bevestiging dat dit tyd is (as ek só met oom Angus se woorde mag speel)

      Nee, jou antwoord het nie die herrie veroorsaak nie. Asseblief, moenie so daaroor voel nie.

      En lees maar hier en lewer kommentaar hier... Hier voel dit vir my, dis myne en ons kuier.

      As ek geheim mag deel - ek probeer 'n vaste roetine kry met Bybelstudie soggens. Dit gaan maar steeds haak-en-steek-erig. Facebook belemmer dit en regtig, dis my grootste rede vir die toemaak daarvan.

      Sodat ek weer persoonlik en met God self kan "kuier" vroegoggend. Sonder die versoeking van "gou-gou loer" wat binne 'n oogknip 'n hele halfuur steel. Om dit reg te kry, vir myself, moet ek skoon breek.

      Ek gaan dit doen deur Woensdag my Facebook-rekening te "deactivate". Sou verkies het om dit te "delete", maar kry nie so 'n opsie nie.

      Ek het lief geword vir 'n hele klomp van julle.... my raakmense....

      Delete
  2. Ek is bly as ek nie die vlieg in die salf was nie, en sal beslis graag hier wil aanhou lees <3
    Dankie dat jy jou geheim gedeel het. Weet jy wat, ek sukkel met dieselfde ding (bybelstudie, nie Fb nie). Ek het dit reggekry om Fb heelwat te sny. My groot kontak wat ek nie heeltemal wil opgee nie, is met die TO gemeenskap, en die liewe boeke.
    Maar hierdie laaste maand kan ek net nie soggens konsentreer as ek my daaglikse bybelstukkie wil lees nie. Dis asof dit net kaf is, en niks koring nie. Ek het ander bybelstudies aanlyn gekoop, maar dit gaan maar stuikel-struikel. Ek voel ook dat ek wil sit en luister na God. Stil wees om te hoor wat Hy wil sê, maar dan loop die gedagtes soms so ver...

    Ons kyk maar hoe gaan dit van nou af vorentoe. Ek is bly ek het jou vriendskap nie verloor nie.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Nou soek ek Facebook se "like" en "love" knoppies... :-)

      Ek het op 'n punt gekom waar Bybelstudie - dagboek en dagstukkie tipes, nie vir my genoegsaam voel nie. Daarom het ek by Verse-by-verse-ministries begin inskakel, verder gebruik ek ook ander kommentare, soos Enduring word media en Biblehub om verdere toeligting. Dan lees ek eerder net die Skrif en hierdie agtergrond en verduideliking as wat ek toepassing en 'n dagstukkie lees.

      Maar dis die kruks - dis al weer op die www.... - kan maar nie wen nie!

      Delete