Monday, August 7, 2017

Die AIP dieet vir onderaktiewe skildklier en Hashimoto's

Ek het by 'n nuwe groep op Facebook aangesluit.
Ja, 'n groep vir mense wat sukkel met onderaktiewe skildklier en / of Hashimoto's.

Hierdie inskrywing is vir daardie mense, daardie dierbare vriend(inn)e in verdrukking...

Die inskrywing is lank nie volledig nie, lees asb verder op, doen navorsing en bemagtig jouself.

Is die AIP die wonderkuur?

Ek wens ek kon sê: "Ja!"... maar ek kan nie. Nee, die AIP is nie 'n wonderkuur nie. Dit is slegs maar die eerste stap in 'n lang proses om lewensgehalte te verbeter.


Die AIP staan ook nie alleen nie. Mens moet let op jou spanningsvlakke en jou slaappatroon ook. Dis regtig baie baie belangrik om voldoende sonlig en voldoende slaap te kry ten einde jou immuniteitstelsel te steun en geleentheid vir herstel te gee.


Werk die AIP regtig?

Weer moet ek bieg: "Ek wens dit het..." maar sien, dit werk nie vir almal nie.
Dit gesê, moet ek uitbrei.

Resultate is regtig baie positief en 'n hele klomp, as ek moet raai seker goed 80% of meer, mense getuig van lewensgehalte wat verbeter het, simptome wat verdwyn het, teenliggaampies wat gedaal het.

As mense chemoterapie as opsie vir kankerbehandeling oorweeg, terwyl die uitkoms maar 50% is, dan is 80% vir my 'n baie goeie uitkoms en beslis die moeite werd om te probeer.

Vir sommige is die AIP die antwoord. Hulle teenliggaampies daal, simptome verdwyn en alles is klopdisselboom.
Vir ander lê die antwoord op 'n ander vlak, dit kan vergiftiging wees of spanning of muf in die huis of velprodukte.

Maar - die AIP se werking op die dermkanaal se herstel is die belangrikste. Die dermkanaal vorm die "brein" van die immuunstelsel en moet daarom ten volle herstel word voordat na ander oorsake of moontlike probleemgebiede gekyk word.


Wat is die AIP?

Die AIP is 'n akroniem vir die Auto Immune Protocol, oftewel die outoimmuun paleodieet. Dis gebaseer op die paleo dieet, maar met meer kossoorte wat uitgesny word.

Dis nie 'n lewenslange vonnis nie (wel, nie vir almal nie).
Dis nie 'n kitsdieet nie.
Dis nie 'n dieet om gewig te verloor nie (heelwat mense het gewig verloor, ander het gewig opgetel met die dieet)

Dit is wel 'n eliminasie dieet waar sekere kossoorte uitgesny word om genesing van die dermkanaal te bevorder, om ontsteking in die liggaam te stop, om die immuniteitstelsel te bestuur. Sekere kossoorte is regtig kwaaddoeners, ander is opportuniste.

Wanneer genesing plaasgevind het, word kossoorte teruggesit (hierdie is 'n wetenskap op sy eie) en fyn gelet op hoe die liggaam reageer op hierdie kossoorte.

Die dieet is nie 'n "one size fits all" nie. Wat in die een persoon 'n hewige reaksie ten gevolg kan hê, kan vir die ander 'n heerlike alledaagsheid wees. 



Is onderaktiewe skildklier en Hashimoto's dieselfde?

Sjoe... volgens hoofstroom medici sou hulle dit nie as dieselfde wou sien nie. Maar die realiteit is egter dat die oorgrootte meerderheid van onderaktiewe skildkliergevalle as gevolg van Hashimoto's is. In die VSA het studies getoon dat soveel as 95% van onderaktiewe skildklier agv Hashimoto's is.

Maar, konvensionele medisyne spreek nie outoimmuniteit aan nie. Daarom word aanbeveel dat pasiënte eerder na funksionele dokters as (ja, sowaar) selfs endokrinoloë gaan. Die funksionele dokter kyk na die totale mens, neem alles in ag - leefstyl, dieet, oefening, bynierfunksie, "leaky gut" (deurlaatbare derm) en soek na die oorsaak van die probleem, eerder as om net die probleem te behandel.

Die interpretasie van die bloedtoetse word ook verskillend gedoen. Funksionele dokters kyk na optimale vlakke terwyl hoofstroommedici bloot na die reikgebied kyk - as jou tellings binne die gebied lê is jy gesond, al voel jy asof 'n trein jou getrap het.

Persoonlik beveel ek almal wat aan onderaktiewe skildklier ly ook aan om vir teenliggaampies te laat toets.


Wat behels die AIP dieet?

Daar is 'n hele paar webwerwe (ek sal 'n lys van hulle hieronder noem) waar meer inligting oor die hoe en die wat van die dieet bespreek word. Daar is 'n rits kossoorte wat 'n mens daagliks en weekliks moet inneem. Dan is daar kossoorte wat absoluut vermy en totaal uitgesny moet word.

Die dieet vra dat jy 'n ingeligte verbruiker word. Jy kan nie net 'n pakkie van die rak afhaal en koop nie. Jy móét weet wat presies alles in daardie pakkie is. Jy kan nie met dieselfde lepel vir jou gesin "gewone" kos maak en dan jou "AIP" kos ook daarmee meng nie.

Dr Sarah Ballantyne se lys van aanvaarbare kossoorte - gaan lees asb die artikel op haar webblad:
https://www.thepaleomom.com/start-here/the-autoimmune-protocol/

En die lys van kossoorte wat vermy moet word - ook van haar webwerf af.
https://www.thepaleomom.com/start-here/the-autoimmune-protocol/



Vir hoe lank?

Ten minste 30 dae.... Maar dis beslis beter om vol te hou tot jou simptome verminder of verdwyn het. Wanneer jy dan 'n meetinstrument het (jy voel goed, nie meer kronies moeg, nie meer oorgewig, nie meer gewrigspyne nie), dan kan jy kossoorte begin terugsit.

Ekself was vir byna 15 maande op die dieet voordat ek begin kossoorte terugsit het. En ek het nog nie alles gaan toets nie. Ek geniet my gesondheid, my nuwe lyf, my nuwe lewe en sien nie kans om weer met simptome te sukkel nie.


Webwerwe

Gaan soek asb meer inligting oor verskeie aspekte by hierdie webwerwe:
  • Dr Izabella Wentz is 'n apteker wat self aan Hashimoto's ly. Sy het ook 'n dokumentêre reeks oor skildklierprobleme gemaak. Ek hou van haar aanslag en persoonlike betrokkenheid. Haar facebookblad is ook baie gewild. Ek het haar boek, 

  • Dr Sarah Ballantyne is 'n biofisikus wat self aan outoimmuniteitsiektes (psoriase en Lichen Planus) ly en die AIP dieet, kan ons sê, ontwikkel het. Ook op Facebook
  • Eileen Laird ly nie self aan Hashimoto's nie, maar wel aan rumatoïede artritis. Ek geniet haar potgooie met 'n verskeidenheid van kenners:
                                    Van hierdie kenners sluit in: 

  • Dr Datis Kharazzian, skrywer van die boeke "Why do I still have Thyroid symptoms even when my lab tests are normal?" en "Why isn't my brain working?". Hy het ook sy eie weergawe van die AIP. As mediese dokter behandel hy net pasiënte wat aan kroniese en outoimmuniteitsiektes ly. En as ek eendag baie baie ryk is en baie baie geld het... gaan ek na hom toe gaan vir behandeling.... eendag.

  • Dr Terry Wahls, 'n professor in medisyne wat self aan MS ly. Sy is vir my 'n bron van inspirasie. Sy was aan 'n rolstoel gekluister en sou uiteindelik so, versmorend, sterf, toe sy met mitochondria navorsing en dieet verandering haar lewe totaal omgekeer het.




Resepte

Dis nogal 'n aanpassing om 'n heel nuwe kookmetode te moet volg, veral as jy met konsentrasieprobleme en "brain fog" sukkel. Ek is nie 'n goeie kok nie, hou nie van eksperimenteer nie, veral omdat die bestanddele so peperduur is.

Die grootste nadeel is egter dat baie van die bestanddele nie in SA te koop is nie en mens dit peperduur moet invoer...hierdie plaasvervangers kan dalk werk.

Ek gaan tog 'n klompie skakels deel van webwerwe en resepte wat ek of self probeer het of wat vir my al te lekker lyk.

Ontbyt-idees (seker die moeilikste ete van die dag wanneer mens die AIP volg)
Suurlemoen"kaas"koek (ek het die gemaak met ons dogter se mondigwording)
Pizza basis (ook geskik vir broodjies - 'n Suid-Afrikaanse resep!)
Pita-sakkies (ek kry nie dit reg laat dit soos op die prentjies lyk nie, maar dit bevredig daardie behoefte aan peuselgoedjies)
Souse en marinades (ek weet net nie op wat mens dit gooi nie)
Sout-Karamel Roomys ('n absolute wenner!)
Broodlose toebroodjies (vir die ma wat pouse-kos moet inpak)
Klapper framboos "kaaskoek" (ek het dit met bloubessies gemaak vir die mondigwording)
Chaitee-koek met soutkaramelsous (ook 'n wenner op die mondigwording)

Ek dink dis genoeg vir eers - so 'n lusmakertjie.






No comments:

Post a Comment