Saturday, May 6, 2017

Oor 'n pad en 'n kruis....

Uiteindelik probeer ons elkeen om met die realiteite van ons lewe te oorleef.

Ek het my kwota moeilikheid en probleme, met dit in my agterkop kyk ek rond en sien 'n ander wat klaarblyklik nie dieselfde probleme as ek deurworstel nie. Dan dink ek, wat weet jy? Jy wat gemaklik deur die lewe sweef? Wat weet jy van my pyn, my swaarkry, my worstelstryd?

Maar ek sien nie dat die ander ook maar sy eie worsteling en wroeging deurwerk nie...

Finansies is seker elke enkele persoon in hierdie land of straks nog op hierdie ondermaanse, se grootste hoofpyn en nagmerrie. Daardie nagte se wakkerlê en rondrol... hoe gaan ek al die punte bymekaar bring...?

So bekla ek my lot op 'n dag by my dokter. "Lyk my 'n mens moet skatryk wees om siekte te kan bekostig!" Sy het lekker gelag. Maar dis so waar... Veral vir ons wat nie van doktersbesoeke gewoonte maak nie. Inteendeel - daar gaan maklik twee tot drie jaar verby voor die huisdokter een van ons sien. Miskien het die feit dat ons privaatpasiënte is iets daarmee te doen.

Maar sedert die Hashimoto's diagnose het dinge verander en is my maandelikse medisynerekening astronomies! Ek is dit glad nie gewoond nie en word letterlik siek elke keer wanneer die rekening kom. Hoe kan ek my man se swaarverdiende geld so uitmors?

Tydens 'n ander doktersbesoek, 'n funksionele dokter wat 'n hele uur lank konsulteer en meer bloedtoetse as fisiese ondersoeke doen, gesels ek met hom oor die koste van hul medisyne (als ingevoer want in SA is die "alternatiewe praktisyns" mos byna uit die bose). Die gesprek het uiteindelik 'n heel ander wending geneem. Hy het vertel van sy ondervinding en bankrotskap... hoe God hom deur dit gedra en laat groei het.

En ek het gedink hy het dit gemaklik. Mos 'n dokter.... konsultasie van R1000 / uur. (Wat egter baie goedkoper uitwerk as die huisdokter se R350 / kwartier!) Hoe sou ek ooit kon raai?

Mense kyk na die plaas, die trekkers, die implemente en dink: julle sit daar goed in....
Helaas nie.
Want sien, dis soos die dokter se spreekkamer, sy instrumente, die kardiomasjien, die sonarmasjien en al die ander doktorsgereedskap. Of soos die ingenieur se draaibank, freesmasjien, bore. Of soos die padbouer se padskraper, vragmotors, teervretermasjien en andere. "Tools of the trade" sê die rooitaal.

Dis alles masjienerie, gereedskap wat in stand gehou moet word, gebruik moet word in die alledaagse werksaamhede om geld te genereer. Peperduur masjinerie daarby, meestal op skuld gekoop.

Dit beteken nie dat die dokter, ingenieur of padbouer superryk is nie. Inteendeel... soms vreet daardie skuld al jou leef en asemhaalgeld ook op. Want masjiene het die geneigdheid om te breek juis wanneer die bankbestuurder knaend bel.

Wanneer mense dan vir my kwalik neem omdat my kinders nie  deelneem aan  buitemuurse aktiwiteite nie, nie universiteit toe gaan nie, omdat ek sommer 'n gewone kerkrok bietjie opdollie vir my enigste dogter se troue, ons die troue sovêr moontlik self gereël en hanteer het, omdat my huis in 25 jaar nog net een lagie verf gehad het, ek dankbaar bid vir elke tweedehandse kledingstuk wat ek en my kinders ontvang....
Dan wil ek uitroep - kom loop my pad!

Leef my lewe, nie net een dag nie, maar ten minste 'n jaar.

En dan, ja dan, dan kan jy kritiek lewer.

Wanneer my kruis te swaar raak
en ek om my kyk
na ander kruisdraers wat
selfs met 'n glimlag hul kruise dra,
dan wil ek na die Uitgewer van kruise gaan
en vra: Hoekom is my kruis so swaar?

Maar wanneer Hy dan ander
op die oog af ligter, gemakliker
gladgeskuurde kruise aan my uitwys
en uitnooi: Neem enigeen.

Dan kyk ek met nuwe oë...
Sien die kruis wat San, Jan en Gert
so gemaklik dra, sal my skouers
stukkend vreet,
Sien die kruis wat Piet, Linda en Marie
glimlaggend kon dra,
sal my rug breek
Sien dan 'n kruis, oud, versplinterd
maar bekend... so bekend...
dan lig ek my kruis met sy splinterlyf
en dra dit met nuwe krag,
met 'n glimlag en
dankbaarheid.







1 comment:

  1. Dis so waar. Ons weet nie wat regtig in ander se lewens aangaan nie, en wanneer ons miskien 'n bietjie uitvind, besef ons, ons eie probleme is makliker om te hanteer.

    Iets wat jy 'n paar jaar gelede oor finansies gesê het: wanneer ouers sukkel om die finansies te laat klop, en kleinding vra vir dit en dat, of om aan iets deel te neem, maar daar is net nie geld nie, moet jy eerlik met hom/haar daaroor praat, sodat hulle van kleins af leer waar geld vandaan kom, hoe om dit te hanteer, en dit wat hulle wel kry of kan doen, meer sal waardeer.

    Ons werk nou so met ons kinders, en dit is die beste ding wat ons kon gedoen het. Baie dankie vir daardie goue stukkie raad.

    ReplyDelete