Monday, May 29, 2017

Om terug te staan ...

... en stil te bly.

Ek kon dit geredelik regkry om die kinders toe te laat om self besluite te neem.
Klein-kleintyd het ek bloot keuses aan hulle gegee ("wil jy die groen of die rooi hemp aantrek?") wat aan die kleinding die gevoel gee - ek het self besluit wat ek gaan aantrek.

Met grootword het dit relatief maklik gegaan, omdat ek glo dat elke mens deur eie ervaring beter en meer leer as deur waarneming of ouerlike "preke". Dus het ek die kinders sekere verantwoordelikhede gegee en tot 'n mate toegelaat om self keuses te maak.

In my eie lewe het die pad maar op- en afdraand geloop, wie van ons draf heelpad gelykpad? Tradisioneel swem ek stroomop. Rebels in byna alles, tog ook tradisievas in ander opsigte.

Soveel so dat ek nou onlangs in 'n Facebook-groep só daaroor skryf:
Eers was dit tuisonderwys....
Toe raak God my hart oor voorbehoeding, oor oorgawe, oor beheer... deur die tuisonderwys e-posgroep.
Daarna volg evolusie en skepping.
En nog later inentings, vroedvroue, organiese kos....
Ons elkeen se pad sal verskil, elkeen het ander plekke waar Vader aan ons snoei, timmer, beitel. Maar Hy is voortdurend met ons besig.
Oor sommige goed was ek al bitterspyt, hoekom het Hy my nie vroeër al hierdie dinge gewys nie, dan kon ek ook mos...?? Waarop my dierbare ander helfte antwoord: "Jy sou nie toe geluister het nie." Eina! Dis so waar!!!
Dan wens ek, hoop ek, bid ek dat my kinders vroeër oopkop sal wees, gouer sal luister en gehoorsaam.
Maar, meteens staan ek voor 'n struikelblok, 'n groot rots, 'n berg...
Iets wat ek nooit in my dag des lewens gedink het vir my so moeilik sou wees nie.
Om my kinders toe te laat om hul eie besluite te neem, hul eie lewe te leef, hul eie foute te maak en bowenal hul eie drome te realiseer.

Dikwels lees mens en hoor mens dat ouers hul drome deur hul kinders probeer verwesenlik. Ek het my bes probeer om dit nie in my kinders se kinderjare te doen nie.

Ek vermoed die feit dat my kinders tuisopvoeding gehad het en nie in 'n hoofstroomskool was nie, dalk veroorsaak het dat ek in elk geval nie my drome op hulle kon afdruk nie.

Maar, daar is grootmensdrome, goed wat ek, sou ek my lewe kon oorleef, anders sou doen...

Is ek dan nou besig om dáárdie drome, daardie "spytwees" op hulle af te dwing....?
Mag ek daarvan behoed word, maar ek vang myself dat ek nie wil toesien dat hulle dieselfde foute as ek maak nie, nie met dieselfde spyt en letsels loop nie...

Wees tog oopkop, my kind. Lees oor alles en bedink alles wat jy lees. Moenie net volg waar ander getrap het nie, trap jou eie spore...

Groetnis

2 comments:

  1. Ek dink tog mens mag maar leiding gee; rigtings wys; vertel van eie ervarings. Maar dan sal ons maar net moet leer om te los, dat hulle dan self besluit, al het ons gehelp. Maar waar daardie grenslyne is, weet ek nie so mooi nie.

    ReplyDelete
  2. Ek twyfel of jy die "spytwees" op jou kinders kan of sal afdwing. Eerstens kan ons mos maar aan ons kinders sê hoekom ons dink 'n sekere besluit van ons was verkeerd. Nie net dit was verkeerd en jy mag nie die besluit neem nie, maar wat was die situasie daaragter, wat het jy gekies en wat was die gevolge. DAN moet hulle hul eie besluite neem, raad wat gegee is, inaggenome, en ons as ouers moet daarmee saamleef.

    Soos baie ouers (oumas en oupas) wat moet hoor dat hul kinders (ons as ma's en pa's) besluit om hul kinders tuis te onderrig. Hulle kan raad gee, maar dit is daarna buite hul hande, en nie hul reg/plig om in te meng nie.

    Makliker gesê as gedaan, nê ;) Hoop ek onthou dit wanneer my seuns hul eie keuses moet maak.

    ReplyDelete