Friday, June 3, 2016

Onafhanklikheid

Dit moet verskriklik wees om só afhanklik te wees.

As jy kruideniers of klere wil koop, moet jy iemand vra om jou winkels toe te neem.
As jy dokter, tandarts of oogkundige moet besoek, moet jy iemand vra om jou daarheen te neem.
Haresny, by 'n vriendin kuier, selfs net 'n vinnige uiteet - vir alles moet jy iemand in die oë kyk: "Kan jy asseblief...?"

Die onafhanklikheid wat 'n enkele handtekening, 'n klein stukkie papier, 'n mens bied is in werklikheid veel groter as wat jy op 18 besef.

Tóé was die enigste oorweging net om jou ouers se motor (wettig) te bestuur. Dit was al. Dis eers wanneer jy ten nouste met 'n totaal afhanklike saamleef, dat jy besef hoe 'n groot voorreg jou onafhanklikheid regtig is.

Plaaskinders leer vroeg, baie vroeg...

Hoe oud ek was toe ek die eerste keer 'n stuurwiel in my handjies vasgehou het, weet ek nie, moontlik drie, dalk vier. Die prentjie wat ek wel onthou is ek as sesjarige. op my pa se skoot agter die stuur van ons 1975 (of daar rond) Land Cruiser.

Een prentjie is helder in my geheue. Ons was op pad na die lande, ek op pa se skoot, en moes verby die asgat ry. Ek was só bang dat ek in die gat gaan inry!! Daardie vrees klem my sommer weer vas.

Later kon ek begin om die ratte oor te sit. Ag, albei hande was nodig vir die sware taak. Dan is daar geen hande op die stuur nie. Gelukkig was pa steeds onder en agter my.

Plaaskinders leer eers trekker bestuur voor hulle kan bakkie bestuur. Koppelaar ("clutch") en rem moet eers dáár bemeester word, voor die bakkie ingewy kan word. Na ek die Fiat 640 DT trekker kon ry, was die bakkie volgende.

Op daardie stadium was dit 'n Toyota Hilux, ligblou van kleur. Ek moes die stuurwiel vashou terwyl pa agterop mielies uitgooi vir die skape. En so, van ongeveer 10 jaar af, het ek bestuur.

Maar om met 'n bakkie op 'n plaas te ry, is een ding.... 'n kar in die dorp iets heel anders.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Leerlinglisensie. 
Ek was aan die begin van my matriekjaar 17 en kon my leerlinglisensietoets gaan skryf.
Leer en leer, maar die senuwees knaag. Ons was net twee wat dié oggend geskryf het. 

Na die toets, kom die beampte in die lokaal en sê: "Een van julle is deur en een het gedruip." Ek het sommer by voorbaat my goedjies bymekaar gemaak om uit te stap.

Toe roep hy my terug!!!!
Vreugde! Ek het hom!

Nou was vryheid so naby. Om te kan ry, van die Vrystaat tot die Kaap, van Memel tot Pretoria.

Net na die Desembervakansie (wat ons in die Kaap deurgebring het), word ek 18 en kan onafhanklikheid my deel word.

Maar, ek het nog nooit parallel parkeer nie. Kan dit om de dooi dood nie doen nie.
Die Sondagmiddag voor ek sou gaan vir my lisensie-toets, oefen ek en pa parallelparkering op die leë parkeerterrein van die kerk. Probeer en probeer.

Maandagmiddag na skool. Toetsterrein op Vrede.
Ek en ma se Toyota Corolla...

Ons is deur die rituele en moet die praktiese toets doen. Parallelparkering...
Kyk, wegtrek teen 'n opdraand kan ek, mos in die bergwêreld grootgeword en vele kere by 'n hek op 'n koppie moes stop en wegtrek. Agteruitry en 'n drie-puntdraai kan ek doen.

Maar, parallelparkering.
Ek en die konstabel doen hom die eerste keer.
Ek kyk na hom en sien, o wee!
Hy gee my weer 'n kans....
en weer.

Toe ry ons verder, deur die dorp (net stop- en stofstrate, geen verkeersligte of enige verkeer nie!) Maar Vrede lê teen 'n bult en by elke stopstraat, moet ek met die handrem wegtrek.

Handrem?
Waar is hy?
Met die derde keer se soek na die handrem onder die paneelbord, lag die verkeerskonstabel vir my: "Ek kan sien dat jy in 'n bakkie leer bestuur het!" Verleë kan ek maar net saamlag.

Uiteindelik terug op die werf.
En ek weet, ek sal maar nog baie parallelparkering moet oefen voor ek my bestuurslisensie sal kry. Derde keer is immers skeepsreg.

Ek sien hoe trek hy 'n boek nader, aanvaar dis om 'n volgende afspraak te maak.

Maar dan begin hy skryf en skryf, vra dan my identiteitsboekie. Ek wonder wat gaan nou gebeur. Wanneer hy die papier in my boekie plak, besef ek, Ek het hom!!!

Met 'n glimlag en 'n knipoog, gee hy my identiteitsboekie terug: "Juffrou, as dit nie vir jou blou oë was nie!"

Ek kan nog steeds nie parallel parkeer nie. Sal eerder drie blokke verder stap as om dit te probeer (en 'n kar te stamp). Gelukkig het die stuurmeganisme van voertuie so verbeter dat ek met gemak selfs 'n groot voertuig soos die (glo dit) Toyota Fortuner sommer in 'n parkeerplek kan inry en nie parallel hoef te parkeer nie.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Soos ek vandag ook vir my eie kinders leer, 'n bestuurslisensie beteken nie 'n voertuig nie. Ek kon wel rondgestuur word, maar het nie eiendomsreg gehad nie. Eers moes ek my eerste studiejaar deurkom.

My eerste motor was my ma se ou Toyota Corolla. Wat 'n vreugde! 'n Metaalgroen een waarby my koshuistasse se groen mooi gepas het.

Tot my eie ontsteltenis skryf ek my karretjie in my eerste huweliksjaar af. Vir 'n jaar lank het ek en manlief net sy plaasbakkie - 'n Toyota Land Cruiser 1985-model - wat baie soos my eerste Cruiser-ervaring lyk (en steeds deur ons kinders op die plaas gery word).

Na 'n jaar kan ons eers die Corolla vervang, met 'n ... wel, 'n Corolla.

Die karretjie het getrou die kilometers gesluk, vir tien jaar lank en net oor 'n 110 000km volgemaak.

Ons moes egter aanbeweeg, ek was swanger met ons vierde kind en die Corolla het net te klein geword. Toyota Condor was die volgende voertuig in ons motorhuis.

Ek was regtig lief vir my kar. Myne. Hy had 'n enorme pakruimte... Ek kon vier plukkratte met gemak agterin  laai én nog ses mense met kruideniers vir 'n week of langer ook. Die plukkratte was 'n gerieflike manier om die kruideniers te stapel.
Dit was nou nie die vinnigste en kragtigste voertuig nie, veral nie vir ons wat woonwa sleep deur die platorand na die Laeveld nie, maar plek, ruimte - genoeg!

Geliefde het egter na meer krag gesmag en met die vrystelling van die Fortuner, was my kar se dae getel.

Vandag, agt jaar later, het die Fortuner reeds meer as 200 000km en is daar nog geen plan om hom te vervang nie. Geliefde het sy krag en spoed gekry, maar ek moes my ruimte en pakplek boet. Die Fortuner is net te klein vir ses mense en hul bagasie. Net te klein vir ses mense en kruideniers. Dis óf mense óf bagasie. Wanneer ons vir 'n naweek gaan kuier, moet ons die waentjie saamsleep. Maar die kar gedra hom goed en ons het nog geen teëspoed gehad nie.

Soos hul advertensieklingel lang jare gelede gelui het: Alles loop reg, altyd reg - Toyota!

Genade, maar ek het draaie geloop (gery?)

Ek wou maar net vertel - ek het vandag soveel vreugde beleef.
Wind deur my hare, agterop die bakkie (daardie selfde 1985 Cruiser) en ons oudste en jongste binne-in die kajuit.  Met jongste (12) agter die stuur. Sommer net op die plaas.

Soos 'n kind, so het ek gevoel. Hoekom, o hoekom, mag ek as getroude vrou nie meer agterop die bakkie staan, oopmond vir die son lag en die vreugde van wind in my hare ervaar nie?


Dit is vreugde, bevryding.

Maar om ander in die oë te moet kyk, elke keer wat jy wil dorp toe gaan....
Onafhanklikheid is papierdun.

3 comments:

  1. Ek kry elke keer seer as iemand vertel "nee hulle sal nog oefen" of "ek gaan nog die boek kry". Dit is seker 'n vreesaanjaende ding (deesdae die grootste beslommernis)maar min aardse dinge kom by daai bevryding en euforie om so onafhanklik te wees. En die beste van als is dat 'n mens so gewoont raak aan die bestuurdery. Dit raak later niks. Amper 'n werk. Lekker gelees.

    ReplyDelete
  2. Anonymous05 June, 2016

    Ja, ons ou boerkarre. Ons het van 'n Toyota Condor en Corolla na 'n Mercedes Vito aanbeweeg. Te versot geraak op die baie spasie. 8 mense EN bagasie -- nou kry die sleepwa amper nie meer kans om te werk nie. 'n Vito is nouwel geen plaaskar nie, maar hy het krag EN spasie (mits jy wegbly van die sandpaaie). Hy vreet kilometers soos soetkoek. Ns. Ons Condor doen nou nog plaaaswerk -- goeie ou kar.

    ReplyDelete
  3. Ogies het "Vlerke" geword. Ek het al vergeet hoe lekker jou inskrywings is om te lees!

    ReplyDelete