Friday, February 17, 2012

Die storie van Hasie.

Hasie het grootgeword. Vir sy hele leeftydjie was hy by ma en pa knus in die huisie en het lekker gespeel - dan buite op die grassies, dan in die bos. Pa en ma het altyd gesorg vir kossies en dat hy veilig is.

Maar nou is dit tyd dat Hasie skool toe gaan, want Hasie het grootgeword en soos alle ander hasies, moet hy nou skool toe gaan.

Pa en Ma haas was baie opgewonde, Hasie het nie mooi geweet wat om te verwag nie, maar al die ander hasies het hom oortuig dat dit vreeslik lekker gaan wees.


So het Hasie se skoolloopbaan begin. Hy het geleer van Hasie-hop, van knibbel-vreet, van skuilhou vir jakkals en wolf. Hy het geleer van die haas-geskiedenis en al die lekkerste en giftige blaarkos. Die dag toe sy rapport huis toe gaan, was sy ouers so dankbaar. Hasie het vir al sy vakke 'n A of 'n B+ gekry. Maar....

"Wat is dié?" vra Pa-Haas verbaas. Daar, aan die onderkant van die rapport is 'n vak waarvan die punt met 'n rooi sirkel omkring is....



Hasie het swem gedruip.




Dadelik begin sy ouers reëlings tref vir ekstra-klasse, daar word rondgevra en uitgevra, ekstra ure, langer oefentye, meer en meer moes Hasie insit. Hy het sy bes probeer. Maar keer op keer het die onderwyser of die hasie wat hom ekstra-klasse gebied het, vir sy ouers gesê: "Hasie is lui", of  "Hasie is dom", of "Hasie moet Ritalin gebruik", of "Hasie moet harder probeer" of meer oefen of nog ekstra insit.







Arme Hasie. Hy het sy beste gegee en dit was nooit goed genoeg nie.

En uiteindelik......
....het Hasie versuip.

Ons moet baie seker maak dat dit wat ons vir ons kinders toewens en hulle laat doen, weliswaar iets is wat hulle wil doen. Indien daar nie innerlike motivering is nie, kan mens nie geluk nie. Is dit my kind se droom en ideaal - of myne?

Lê klem op jou kinders se sterk punte, hul positiewe eienskappe. Laat Hasie eerder ekstra-klasse doen in hasie-hop en knibbel-vreet, want dit prikkel sy belangstelling, dit spoor om aan om meer uit te vind, harder te probeer en nuuskierig verder en verder ondersoek in te stel, as om hom te dwing om dit waarin hy nie goed is nie te MOET doen. Op die ou end word dit slegter en slegter en wil hy later glad nie meer nie.

(Ons sien dikwels volwassenes wat NIKS hou van lees nie, wat weier om te lees..... volwassenes wat as kinders gedwing was om te leer lees op 'n ouderdom wat hulle nie gereed daarvoor was nie!)

Groetnis



No comments:

Post a Comment