Tuesday, July 5, 2011

Eens op 'n Sondag,

tydens die erediens. Mag ek maar bieg?

Was ma en kinders ewe onrustig, dwalend....


Net daar het ek die blaaitjie met die preek-uitleg beet en wys vir ouer boet (9): Lees vir my.

Toe lees hy: "Wie is jy?"
en ook "Wie roep jou?"
daarna "Gee om", "Doop"en 
"Kom jy word geroep."

Maar vir Wat is die band tussen jou en jou Roeper? het hy nie kans gesien nie. Wel vir

"Wees vir God 'n volk."

Waarop ek reageer deur te skryf: "Jy is so slim."

Nie links nie, skryf hy terug: "Omdad {sic} ek slim is mag ek op mamma le {sic}."
Ek skryf terug : Nee, jy is te groot
En hy reageer met 'n "aa".

Skielik besluit jonger boet (7), hy wil deel in die pret. Hy bemerk 'n woord in die Woord en skryf dit dan op die blaaitjie oor (uit sy kop uit). 

Skryf hy: "Geg"

Ek loer toe in die Bybel en sien die woord is geag. Ek skryf die "a" in en wys hom die regte woord.

Daarna sien hy 'n ander woord en skryf  "mAAR". 
Hier sien ek die nadeel van die rekenaar se sleutelbord as alfabet-onderwyser!!! :)


Ouboet beantwoord die vraag: Wie roep jou? en skryf "god" waarop ek gou wys dat ons God altyd met 'n hoofletter skryf.

Kleinboet begin om Roeping oor te skryf.

Ouboet soek my aandag, maar ek skud my kop. Hy skryf: "Prat me my."
Enigste reaksie is 'n kopskud.
Hy skryf: "Hkom nie"

Begin sms-taal so vroeg al?

Hoekom skryf ek dit als? Want hierdie jongste twee word op die "Relaxed homeschooling" of soms die "Unschooling" metode groot. Hulle het nog geen formele onderrig in óf skryf óf lees gehad nie. Lettervorming moet ek by jongste nog probeer vaslê en oudste moet leer spel, maar alles op hul eie tyd, want deur dit te dwing, maak ek die leerervaring negatief en dit wil ek glad nie bereik nie.

Ek was totaal verras met albei, al weet ek nie veel van die preek nie (Skuus dominee.)

1 comment:

  1. Ai dit is so oulik! Is hier saam met jou en ek dag ek is die enigste wat so ontspanne is oor skryf! Dankie dat jy dit deel!

    ReplyDelete